BYDRAE DEUR Ds. JOHAN BOTES - 1962 GROEP:
(Links to other sections at bottom of this page.)


HERINNERING AAN JJ DU PREEZ JEUGJARE.

Dis 1959.  Ek is in standerd 7.  Mnr Jan van Zyl, as my geheue my nou nie parte speel nie, was ons klasonderwyser, ‘n kunstenaar van formaat.  En as ‘n mens in sy goeie boekies wou wees, moes jy net kuns en kultuur praat.

Maar dit was juis die probleem.  Veertig jaar gelede was dit die laaste ding wat jy vir ‘n tienerseun van moes probeer oortuig.  Gee vir hom rugby, ja.  En praat oor ‘n lekker toer – nie net Ben Conradie se Maats op ver Paaie nie – maar veral rugbytoer, dan het jy die jongmanne gaande gehad.  Maar ‘n operette, nie sommer nie.

Dit was juis weer die jaar van ‘n groot operette vir die skool.  Dis aangebied in die skoolsaal en selfs die radio se verteenwoordiger was daar.  Mnr Van Zyl het met al sy kunssinnigheid probeer om orals in die skool dié belangrike gebeure te propageer.  En ons klas het ook sy beurt gekry.  Mnr Van Zyl wou sommer direk van ‘n hele klomp van ons weet hoekom ons nie kaartjies het nie.  En toe begin hy sommer so op die naam af vra.  Ek het ‘n direkte vraag vrygespring, maar die ou in die bank net agter my is gekonfronteer.

Nou weet ek wat sy naam is, maar hy lewe ongelukkig nog, om dit so te stel.  Onskuldig sê hy toe: my pa het gesê ek kan nie rugbystewels kry en nog sulke goed ook gaan bywoon nie.  Die vet was in die vuur.  Mnr Van Zyl het nou, soos ons daai jare sou gesê het, rêrig gestrip.  En toe het die ou uitgepak en ons behoorlik sleggesê.  Soos dat ons g’n waardering het vir die hogere dinge van die lewe nie.  As ‘n mens dit nou plat sal sê, dan het hy eintlik bedoel ons is ver van ‘n spul barbare nie.

Ek moet erken dat ons ook maar ‘n rowwe spulletjie was.  Hy was dalk nie heeltemal verkeerd nie.  Veertig jaar later met ‘n bietjie meer kennis en wysheid, moet ek self sê:  ek dink glad nie hy was verkeerd nie.  Hy het ‘n goeie punt gemaak.  Hy het vir my ook ‘n insig of twee gegee.  ‘n Mens se lewe kan nie uit rugby en braaivleis bestaan nie.  Ek dink dit was goed dat hy die dag die duiwel in was vir ons.  Ons sou hom andersins waarskynlik nie gehoor het nie.

So terloops, ek wil nou nie soetsappig wees nie.  Maar dis tog goed om ‘n bietjie erkenning te gee aan die mense wat jou help vorm het.  Mnr Van Zyl lewe seker nie meer nie.  Maar as dit dalk sou wees, dan sal ek nie omgee as hy maar lees wat ek sê nie.

Dankie meneer,  julle werk aan ons was nie tevergeefs nie.

Johan Botes
7 November 2002








Previous
Section
Contribution
Index
Volgende
Bydrae
Next
Section







(format is mm/dd/yyyy)