1960 GROEP
LEWENSGESKIEDENIS VAN
ALETTA CATHARINA VAN DEN BERG (GEBORE VAN ROOYEN)


Aletta stuur haar storie via 'n e-pos boodskap 18 Okt Ontvang!:

In my matriekjaar 1960 is my pa, wat skoolhoof van Tiervlei Laerskool was, as inspekteur van Spesiale Klasse in die Kimberley area bevorder. Ons het dus na Bloemfontein verhuis. Ek het by Bloemfontein Onderwyskollege vir 3 jaar studeer, ‘n Kindertuindiploma met lof geslaag en was primaria van die Stadhuis.

Ek is daarna na Bultfontein waar ek ‘n Sub.B klas gehad het tot 1966. Daar het ek my man,Japie ontmoet (hy het my van verdrinking gered uit die Vetrivier tydens ‘n uitstappie!!) Ons is op 17 Desember 1966 in Port Elizabeth getroud. Ons het ons gaan vestig op die plaas Talana in Bothaville distrik. In 1968 is ons dogter, Cornel, gebore, Japie is op sy pa se verjaarsdag op 13 September 1969 gebore en JB het die lewenslig in 1973 aanskou.

Ek het ‘n regte boervrou geword en by die VLU aangesluit om vaardighede aan te leer. Ek het verlede jaar my toekenning van 40 jaar lidmaatskap ontvang en is tans voorsitter van ons tak in die dorp. Japie is ‘n boer deur en deur, baie presies in alles wat hy doen. Hy is reeds twee keer genomineer as Mielieboer van die Jaar en was elke keer onder die eerste drie. Ons boer met mielies, sonneblomme, Bonsmarabeeste en Duitse Merinoskape en ook verskeie wildsoorte.

In 1999 het ek ‘n ernstige motorongeluk gehad wat my lewe totaal verander het. Het baie seer in die gesig gekry. Ek kon daarna ook nie meer tennis speel nie. Moes reeds ‘n knie- en heupvervanging kry.

My kinders is vir my baie kosbaar en het aldrie vir ons baie vreugde deur die jare verskaf. Cornel het ‘n graad in spraakterapie en oudiologie (Tuks), Japie – BSc. Landbou Ekonomie(Tuks) en JB -BSc Agric (Kovsies). Cornel en JB het later hul meerstersgrade ook behaal. Hy is tans besig met sy doktorale studies in Volhoubare Landbou. Hy was ook in 2009 die Nasionale Jongboer van die Jaar, waarop ons as gesin baie trots was! Hy is getroud met Cornèl en hulle het drie seuns, Jacques(10), Hanrè (8- verjaar ook op 13 September!) en Benjamin (amper 5). Cornel is in April vanjaar op George, waar sy werk, getroud met Johan du Preez en het sommer vir Chris (15) as seun bygekry. Japie boer op een van die familieplase in Viljoenskroon. Hy leef ook vir die boerdery en is nog ongetroud.

My belangstellings is: lees, musiek, tuinmaak, tennis, rugby, toer oorsee en om my kleinseuns te bederf met lekkernye! Dit is mos ‘n ouma se voorreg!

Ek en Japie woon nou vir 8 jaar op die dorp. Hy boer nog voltyds en deur die Heer se genade is beide van ons nog baie gesond.

Ek sluit ‘n familiefoto van ons gesin op Cornel se troue in asook een van die kleinseuns en een van Cornel op haar troue.

[vd-berg-gesin-cornel-troue.jpg]

[vd-berg-kinders.jpg]

[cornel-IMG_0731_1.jpg]

[vd-berg-kleinseuns-IMG_5905.jpg]








2000-2010
Reunions
2010 Reunion
Class of 1960
Next
Biography
2011-2020
Reunions
Next
Section





(format is mm/dd/yyyy)