1960 GROEP - BIOGRAFIE ANTONETTE BUYS (GEB. SWART)



(Ek en Antonette het vanaand - 22ste Oktober 2011 - haar lewensverhaal oor die foon gefinaliseer, maar die oorspronklike is net na ons re-unie verlede jaar al aan my gestuur.)

"Vyftig jaar gelede voel soos gister. Op my laaste skooldag by Hoërskool J.J du Preez het ek biologie geskryf in my nuwe rooi-en-wit geruite rok met die groot sakke. My rok se sak het afgeskeur en ek was amper in trane. Dit was my laaste tienertrane wat ek moes wegsluk. Ek sou nog leer dat die grootmenswêreld se trane uit ‘n dieper, anderste seer kom..

Ek het my primêre onderwys-diploma aan CTTC behaal en ek wonder of Helga Funk nog kan onthou dat ek as student haar naweek-werk by die Jood se klere winkeltjie in Voortrekkerstraat oorgeneem het. Dit het my sakgeld ‘n aansienlike hupstoot gegee.

Ek het die voorreg gehad om vir 4 oud-eerlinge van J.J. du Preez, strooimeisie op hul troue te wees, nl. Jap Hartman en Johanna van Graan, Johan Burger en Fransa (Panna) Louw, dogter van mnr. Louw, een van ons onderwysers.

My eerste onderwyspos was by Laerskool Tiervlei. Nico Louw, ook ‘n oud-leerling, se pa was die hoof. Dit lyk of ek maar laangsaam, finaal my bande met Du Preez verbreek het.

My tweede pos was by Hoërskool Warrenton en daarna Sasolburg waar ek my man ontmoet het. Ek het altyd gesê ek wil nie met ‘n onderwyser of ‘n boer trou nie en natuurlik was my man toe ‘n boer!!

Ek het baie respek vir ‘n boervrou, maar self was ek maar net ‘n boer-se-vrou wat my brood en eiers by die supermark gekoop het! Tog was ek hartstogtelik lief vir die ruimte en stilte van die plaas. En dit mis ek vandag die meeste!

Ons eerste kind, ‘n seun, is twee maande te vroeg gebore met ernstige komplikasies. Dit was geweldig traumaties en so ook die twee miskrame daarna op ‘n vêr-gevorderde stadium. Later het ons twee dogtertjies aangeneem – op 6 en 3 weke onderskeidelik.

Ons seun is op 9½ jaar met brein-kanker gediagnoseer en op 12 oorlede. Na 3 jaar in ‘n gat van depressie het die Here my volkome genees.

Twintig jaar later is ons dogter op 26 oorlede a.g.v. bloeding op die brein. Sy was weke in intensief en later in ‘n rehabilitasie sentrum waar die Here haar wonderbaarlik genees het en sy na 3 maande ontslaan is.

Sestien uur voor ons haar sou gaan haal, is sy oorlede weens trombose. Ons was verpletter! Die keer kon ek my weg na die lewe terugvind – sonder depressie – met ‘n almagtige God wat my dag vir dag gedra het.

Ons jongste dogter (34) trou (DV) oor ’n jaar en dan hoop ons om ook Oupa en Ouma te word!

Vandag kan ek met groot dankbaarheid terugkyk op my lewe en weet dat die Here se genade nog elke dag genoeg was vir my. Aan hom al die eer!!

Naskrif:  Dikwels dryf die dood van ‘n kind ouers uitmekaar, maar ons is wonder bo wonder nader aan mekaar gedryf en ons verhouding versterk en verinnig.

Ek is bevoorreg om vandag ‘n berader by ‘n krisissentrum in Pretoria te wees."






2000-2010
Reunions
2010 Reunion
Class of 1960
2011-2020
Reunions
Next
Section





(format is mm/dd/yyyy)