1961 OPVOERING VAN HAMLET - BERIG:

UIT DIE SKOOL SE JAARBLAD VIR 1962:

"Die toneel is 'n kuns wat baie beklemtoon word in ons skoollewe, en ons kan met trots terug kyk op 'n suksesvolle reeks van opvoerings wat in die verlede op die planke gebring is.   Ons is gelukkig om oor die bekwame dienste van mnr. Jan van Zyl te beskik.   As ervare radio- en toneelspeler is mnr. Van Zyl nie net die stukrag agter hierdie opvoerings nie:  hy is die opvoerings self.   Die jongste prestasie is verlede jaar gelewer.

Reeds in die eerste week het mnr. Van Zyl begin met sy Hamlet-repitisies, want die plan was om D. P. de Klerk se vertaling van Shakespeare se meesterwerk op 24, 25 en 26 Mei in die Kleinsaal van Parow se Burgersentrum op die planke te bring - vir die tweede keer in ons skool se geskiedenis.   Waar mnr. Van Zyl in 1953 nog van onderwysers in die beklangrikste rolle gebruik gemaak het en self die hoofrol vertolk het, het die rolverdeling hierdie keer uitsluitlik uit leerling bestaan.   Intensiewe oefeninge en die kundige advies en nougesette leiding van mnr. Van Zyl het die deelnemers se spelmoontlikhede pragtig laat ontplooi.   Die opvoering self het dan ook getuig van 'n professionele versorgdheid en toneeldissipline wat seldsaam in skoolopvoerings is.

Niks wat ons kan byvoeg, kan veelsegender wees as W. E. G. Louw se kritiek in Die Burger van 29 Mei 1961 wees nie.   Onder die opskrif Pragtige Prestasie van 'n skool skryf hy o.a.:


'As 'n amateurgeselskap 'n vollengtetoneelstuk wil opvoer, moet hy hare op sy tande hê: as die groep bowendien uit skoolkinders bestaan en die stuk Shakespeare is - selfs 'n vertaling - dan word die moeilikhede so menigvuldig dat net die dapperstes sal deurdruk.   Die Hoërskool J. J. du Preez van Parow het deurgedruk en 'n pragtige prestasie geboekstaaf.

Die gehoor wat Vrydagaand die laaste opvoering van Hamlet onder regie van Jan van Zyl in Parow se Burgersentrum bygewoon het, was tereg verras oor die gehalte van die werk:   Pieter Bredenkamp se fraai decor, Pip Marshall se beligting en die mooi kostuums het alles bygedra tot die geheeleffek.

Aan die jong spelers kan 'n mens uit die aard van die saak nie strawwe eise stel nie -- des te verassender was Louis Moolman se gevoelige Hamlet, Martha le Roux se Ophelia, Andrew Horne se Laertes, Jannie Augustyn se Claudius en Louise Berndt se Gertruida.   Besondere vermelding verdien ook Nico Heyns se grafdelwer....

Die skool, die regisseur en spelers kan met die prestasie gelukgewens word:   dis 'n voorbeeld vir elke skool in ons land.'


Baie geluk en baie dankie aan mnr. Van Zyl, die deelnemers en almal wat op die een of ander wyse bygedra het tot die sukses van die opvoering.   Dit sal deur almal wat dit bygewoon het onthou word as een van die hoogtepunte van 1961 en een van die voortreflikste opvoerings in ons skool se geskiedenis.

Na die Hamlet-opvoering het mnr. Van Zyl nie sy toneelwerksaamhede gestaak nie, maar het hy voortgegaan om aan belangstellende leerlinge klasse te gee oor die grondbeginsels van toneelspel en verhoogtegniek -- 'n allesins lofwaardige onderneming."






Hamlet
Index
1961 Hamlet
Index
Next
Section





(format is mm/dd/yyyy)