Known Years & Subjects:
JJ du Preez:
1961 Rugbytoer - Getikte Weergawe:
(Dankie Amanda Farmer!!)

(Links to other pages and sections at bottom of page)

RUGBYTOER VAN DIE HOëRSKOOL J.J. DU PREEZ 1961:


Vrydag, die 9 de Junie is ‘n dag waarna alle spelers van die skool se eerste span uitgesien het. Die aand het ons die toer na die Noorde begin onder die toesig van mnre. Maritz en Venter. Terwyl die trane op die stasie rol, vertrek ons terwyl ‘n geweldige lawaai opgeskop word. Die nag het baie van ons eers om vieruur in die bed gekom.

SATERDAG 10:
Aangesien almal maar moeg was het ons maar bly lê terwyl die trein deur die Karoo gesukkel het. Om 12 uur die middag kon ons Beaufort-Wes in die verte sien. Al 22 van ons, die menere inkluis, hardloop toe na die dorpsveld waar ons vir vyftien minute litte losgemaak het met die rugbybal. Ons was ook weer net betyds om die trein te haal. Die tyd het egter nie so stadig omgegaan as wat ons gemeen het nie. Dit is te danke aan ons twee reisvaders wat “sing-songs” ge-organiseer het. Almal het hartlik saamgesing en dit het ‘n leeue-aandeel gehad in die wonderlike spangees wat op die trein tussen die spelers ontstaan het.

Die middag om 5.40 arriveer ons op De Aar waar die trein ‘n uur sou staan. Aangesien dit bitter koud was, het ons, ons warm aangetrek en teen skemer het ons deur die dorp gestap. Mnr Maritz het egter die dorp geken en ons na die dorpspark geneem. Daar het al die toerspanlede op die swaaie en mallemeule gery. Ongelukkig het een in die water geval en bra koud gekry. Om 6.40 vertrek die trein na Noupoort waar ons weer ‘n uur vertoef het.

Ons het almal in die eetsalon gaan sit waar ons vir die mense gesing het onder begeleiding van ons onderwysers. Om 12 uur het almal gaan lê nadat ons vir Piet Krige gelukgewens het met sy verjaardag.

SONDAG 11:
Ons gaan oor die Vrystaatse grens die oggend twintig voor een. Die oggend om 7.20 was ons in die hoofstad, Bloemfontein. Aangesien dit ‘n Sondag was, was ons maar stil terwyl die trein deur die Vrystaatse vlaktes gesnel het. Om 12.10 was ons op Kroonstad en almal het opgewonde gevoel omdat die reis byna ten einde was. Die middag is alles in gereedheid gebring en om 4.45 arriveer ons op Germiston. Op die stasie het hulle spelers ons ontmoet en het ons na die verskillende huise toe gegaan waar ons sou bly. Die aand het almal maar by die verskillende huise gesels en beter kennis gemaak met die mense.

MAANDAG 12:
Die oggend was dit bitter koud. Ons is na die Hoërskool Afrikaans in Germiston saam met ons maats. Na die saalperiode het ons ‘n bietjie litte losgemaak om gewoond te raak aan die lugdruk. Om 10 uur is ons as ‘n groep na die Simmer en Jack-myne in Germiston. ‘n Gids het ons rondgeneem en alles gewys wat almal vreeslik interessant gevind het. Om 12 uur is ons na die Claredon Hotel waar ons ‘n ligte ete genuttig het. Vandaar is ons na die skool waar ons gerus het voor ons eerste vuurdoop. Om 2 uur begin die wedstyd en ons span word as volg gekies:-

Heelagter: Erasmus   Voorry: Augustyn
Vleuels: R. Smit     Morland
A. Smit     Kruger
Senters: H. Visser   Slotte: N. Heyns
  A. van Antwerpen     W. van Zyl
Skakels: J v/d Merwe   Flanke: M Heyns
  C. Crous     J. Nel
      Agsteman: Avenant

Van die afskop af was dit ‘n taai wedstryd en die spanne het goed teen mekaar opgeweeg. Almal het lekker gespeel ten spyte van die snaakse lugdruk. Die tuisspan ruik egter eerste bloed en behaal ‘n doel: 5-0 Kort daarna behaal hulle ‘n strafdoel: 8-0. Ons manne verdedig ‘n bars hou en af en toe val ons heftig aan. Vanaf ‘n volle agterlynbeweging val Hermie Visser in die hoek oor en Augustyn vervyf: 8-5. Die tuisspan vergroot hul voorsprong en behaal weereens ‘n doel: 13-5. Na ‘n paar mooi bewegings word Afrikaans Hoër gestraf en Augustyn slaag met die skop: 13-8. Albei spanne is luid toegejuig deur die ondersteuners.

Ons val nou aan en Renier Smit val oor vir ‘n drie: 13-11. Met slegs ‘n minuut of wat speelltyd oor val Andre van Antwerpen oor vir ‘n drie, maar die aangee was vorentoe en die eindfluitjie blaas. Ons is egter ongelukkig om 13-11 te verloor, maar ons het mooi rugby gespeel.

Die aand is ons onthaal deur een van die spelers se ouers. Daar was jolyt tot laat die aand en almal het die braaivleis en dans terdeë geniet. Die nag het almal maar laat in die bed gekom en nog gedink aan ons wonderlike vriende op Germiston.

DINSDAG 13:
Nadat ons van ons maats afskeid geneem het, vertrek ons om 8:15 per bus na Germiston stasie. Om 8:50 haal ons die trein na Pretoria alhoewel baie harte agterbly in Germiston.

Om 10:05 val die eer ons te beurt om Pretoria, die hoofstad van die Republiek van Suid Afrika, te sien. ‘n Skoolbus van die Hoërskool Wonderboom kom haal ons op die stasie en onderwyl ons hartlik saamsing, ry ons na die skool. By die skool het ons tee gekry en daarna neem hulle ons na die Wonderboom. Terug by die skool het ons weer ‘n lekker oefening gehad waar ons al die klein haakplekkies herstel het.

Na ete neem hulle ons na die Monument, maar tot ons spyt was dit gesluit. Die Amfi-teater was egter ‘n indrukwekkende gesig. Ons sou later egter weer ‘n kans kry om na die Monument te gaan. Daarna is ons na die Fonteine waar almal eers iets gedrink het. Vandaar het ons Fort Klapperkop besoek wat voor die Anglo-boereoorlog gebou is. Toe het die groot oomblik aangebreek aangesien ons na die Uniegebou toe is.

Vir ons was dit ‘n vreeslike interessante toneel om te aanskou. Die tuine wat aan die voet van die Uniegebou aangelê is, was vir ons pragtig. Nadat ons die premierswoning, Libertas, gesien het, is ons terug na die skool. Daar het hulle ons om 5uur by die verskillende spelers geplaas en baie was gelukkig om by meisies tuis te gaan.

WOENSDAG 14:
Almal is die oggend eers na die skool vanwaar ons na Kerkplein is. Die kameras het aaneen geflits om die historiese plek af te neem. Daarna het ons deur die stad gestap om meer van Pretoria te sien. Na ‘n interessante besoek aan die Transvaalse Museum is ons na die huis van een van ons grootste volkshelde, wyle Pres Paul Kruger. Die middag eet die hele span in ‘n kafee en baie verlang terug na die kos van hul ouerhuise. By die skool het almal gaan lê en rus voor die wedstyd wat om 4 uur sou begin. Terwyl ons rus het ons na die mooi Transvaalse nooiens gekyk wat korfbal speel. Ons span het as volg daarna uitgesien:

Heelagter: Erasmus   Voorry: Augustyn
Vleuels: R. Smit     B. Kruger
A. Smit   Slotte N. Heyns
Senters: H. Visser     W. van Zyl
  A. van Antwerpen   Flanke: J. Nel
Skakels: Johan v/d Merwe   B. Avenant
  C. Crous   Agsteman: P. Koen
Haker: W. Morland       

Ons was bly om te sien dat van ons leerlinge wat in die Transvaal gekuier het, vir ons kom aanmoedig het. Daar was ook van ons oud-leerlinge aanwesig. Van die afskop af was ons op die aanval. Alhoewel hulle voorspelers baie swaarder was het ons goed saamgespeel en telkens die bal bemeester. Wonderboom ruik egter eerste bloed toe ‘n speler oorval vir ‘n drie: 0 – 3. Vanaf ‘n lynstaan volg ‘n paar kort aangeë en Avenant val oor vir ‘n drie wat Augustyn vervyf: 5 – 3. Net voor rustyd behaal Wonderboom ‘n stafdoel. Rustyd breek aan en ons is agter: 5 – 6.

In die tweede helfte begin gewig tel en Wonderboom val verwoed aan. Ons verdediging is egter rotsvas en telkens, as ons die bal kry, val ons aan tot in hulle gebied. Met slegs ‘n paar minute speeltyd oor behaal Augustyn ‘n 45 tree stafskop en J.J. du Preez wen ‘n titaniese stryd: 8 – 6. In die kleedkamers was daar vreugde en die aand het die meeste gaan “fliek”.

DONDERDAG 15:
Die oggend het ons die saalbyeenkoms by die Hoërskool Wonderboom bygewoon. Om 11 uur vertrek ons per bus na die Hoërskool Tuine waar ons na die verskillende huise geneem word. Die middag om 3 uur het ons ‘n oefening by die skool gehad. Daar het egter ‘n onrustigheid geheers aangesien ons talle beserings gehad het. Ons span sou dan aansienlik verswak wees. Na ete het ons met die verskillende kinders kennis gemaak en daarna het ons tafeltennis gespeel by een van die kinders.

VRYDAG 16:
Om 9:30 vertrek ons met die luukse skoolbus van die Hoërskool Tuine na die Suid-Afrikaanse Buro vir Standaarde. Vir twee uur het ons gesien hoedat alle produkte eers getoets word voordat dit vervaardig kan word. Dit was baie interessant en die tyd het vinnig verbygesnel. Om 11:30 eet ons almal iets in die kafee en vertrek dan na die Voortrekker Monument.

Dit was vir die meeste ‘n ondervinding wat ons nooit sal vergeet nie. Dit is voorwaar ‘n gebou wat ons amper na asem laat snak het en ons het toe geweet waarom dit Suid-Afrika se trots is. Terug in die middestad het ons op Kerkplein gerus en om 1:30 vertrek ons per bus na die Yskorwerke. Eers het ons ‘n interessante lesing bygewoon oor wat alles by Yskorwerke gedoen word. Daarna neem hulle ons deur die fabriek en ons sien hoe die staal gesmelt, gegiet en bewerk word. Dit was een van die interessantste plekke wat ons besoek het. Na ‘n baie interessante dag, is ons terug na ons verskillende tuistes waar ons die aand deurgebring het.

SATERDAG 17:
As gevolg van beserings kon ons nie die beste span in die veld stoot nie. Die volgende span is egter om 9:30 aangekondig:

Heelagter: A Horne   Skakels: A. van Antwerpen
Vleuels: R. Smit     J. v/d Merwe
A. Smit   Voorry: J. Augustyn
Senters: P. Krige     B. Kruger
  H. Visser   Haker: Morland
Slotte: N. Heyns   Flanke: B. de Witt
  W. van Zyl     B. Avenant
    Agsteman P. Koen

Om 10vm het die taai wedstryd begin. Die uitmuntende spel van die voorspelers was ‘n kenmerk van die wedstryd. Alhoewel hulle baie swaarder was het ons die bal baie bemeester. Albei spanne het egter aangeval en verdedig soos tiere. Alhoewel hulle baas was in die vaste skrums, het ons die lynstane bemeester en hard gewerk in die los. Net voor rustyd moes ons die bal noodgedwonge dooddruk. Vanaf die afskop ontvang H. Visser die bal, pypkan al sy teenstanders en duik oor vir ‘n pragdrie. Augustyn vervyf en rustyd loop ons voor 5 – 0.

Na rustyd val Tuine kwaai aan, maar ons verdediging hou. Die gevoelens loop nou en dan baie hoog, maar alles geskied in ‘n baie goeie gees. J.J. du Preez word voor hulle pale gestraf en Tuine behaal ‘n maklike strafskop: 5 – 3. Albei spanne speel nou lekker rugby en manne word hard grond toe gebring. Na ‘n volle agterlyn beweging duik Krige oor vir ‘n drie, maar die aangee was vorentoe. Vier minute voor die einde val Tuine se voorspelers oor vir ‘n drie wat vervyf word: 5 – 8.

Vanaf die inskop word Tuine gestraf vir ontoelaatbare spel. Talle skietgebedjies word opgestuur terwyl Augustyn die bal stel. Toe die bal oor die dwarslat seil, blaas die eindfluitjie en ‘n taai wedstryd eindig gelykop: 8 – 8.

Die middag het ‘n paar van ons gaan rugby kyk op Loftus Versveld. Die aand om 7:30 het ons Volkspele by die skool bygewoon wat baie aangenaam was. Nadat tee gedrink is, is die toesprake gehou en nog ‘n dag het op ‘n hoë noot afgesluit.

SONDAG 18:
Om 10vm vertrek ons van die Hoërskool Tuine in Pretoria. Ons reis per motor na Bronkhorstspruit, 35 myl ten ooste van Pretoria. Op Bronkhorstspruit gaan ons in ‘n koshuis tuis waarvan almal hou. Na middagete is ons na die Bosveld. Dit is gereël deur oom Dirk Nel. Om 3 uur kom ons by die Loskopdam aan. Daar koop oom Dirk vir ons almal koffie en toebroodjies en ons waardeer ten volle die mense se gasvryheid.

Die middag het ons omtrent 140 myl gery. Die aand eet ons in die koshuis. Nadat almal gebad was, het oom Dirk en dr Roos vir ons films gewys oor hulle jagtogte. Die res van die aand gesels ons met die seuns van die Hoërskool Erasmus.

MAANDAG 19:
Om 7vm moes ons gaan eet ten spyte van die bitter koue. Daarna het party van ons weer gaan lê terwyl ander vuil klere gewas het. Toe kom ons voor ‘n baie belangrike besluit. Ons moes besluit of ons na die Kruger-wildtuin wou gaan of nie. Na ernstige beraadslaging het almal besluit om te gaan. Na middagete het ons gaan rus vir die wedstryd wat om 4nm begin. Ons span was as volg saamgestel:

Heelagter: A Horne   Voorry: J. Augustyn
Vleuels: R. Smit     B. Kruger
A. Smit Haker: Morland
Senters: H. Visser   Slotte: N. Heyns
  A. van Antwerpen     W. van Zyl
Skakels: J. v/d Merwe   Flanke: B. Avenant
  C. Crous     D. de Witt
    Agsteman P. Koen

Die veld was bra hard en die wedstryd taai. Albei spanne het egter geweldige aanmoediging van die pawiljoen gekry. Die spanne het mekaar deeglik vasgeval. Na ‘n kwaai gespook val een van hulle voorspelers oor vir ‘n drie: 3 – 0. Na rustyd het albei spanne weer knaend aangeval en verdedig. Visser sny deur die verdediging en gee op die hafllyn aan Johan van der Merwe wat gaan druk, maar die skeidsregter ken die drie nie toe nie. Voor die end behaal hulle weereens ‘n drie en ons verloor die laaste wedstryd: 6 – 0.

Na die wedstryd is ons na ‘n vleisbraai waar ons vleis en stywe pap geëet het. Dit was ‘n gesellige aand. Nadat die toesprake gelewer is, is ons na die skoolsaal waar ons ‘n baie mooi film gesien het. Daarna is tee bedien en speletjies gespeel tot 10:30. ‘n Baie aangename aand was agter die rug. Ons het toe alles gaan regmaak aangesien ons vroeg die volgende oggend sou vertrek. Om 12 uur het almal gaan slaap.

DINSDAG 20:
Om 5:30 vm het ons koffie en toebroodjies gehad om te eet. Daarna vertrek ons met ‘n groot luukse bus van Kempton Park na die Kruger-wildtuin. ‘n Toer wat ons vriende op Bronkhorstspruit vir ons gereël het. Om 6:40vm is ons verby Doringbult, die plaas van wyle Genl Hertzog. Om 7vm is ons by een van Eskom se grootste takke en daarna deur die steenkooldorp, Witbank. In Schoemansdal is die tonele verruklik en om 10vm is ons in Nelspruit waar ons stilhou om briewe te pos.

Om 12:15 kom ons by die Numbi ingang en ry ons deur die hekke van die Kruger-wildtuin. Almal was vreeslik opgewonde. Om 12:25 gewaar ons die eerste diere: wildebeeste en zebras. Verder aan sien ons ook nog kameelperde en heelwat rooibokke. Nadat ons amper 30 myl in die wildtuin gery het kom ons by die grootste ruskamp, “Skukuza” aan waar ons vir ‘n halfuur vertoef. Daarna vertrek ons na Pretorius Kop. Om 5nm arriveer ons daar en oornag daar.

WOENSDAG 21:
Ons verlaat die ruskamp om 9vm. Die nag het dit hard gereën en die paaie is sleg. Ons sien egter mooi diere. Ons is eers na “Skukuza” waar ons ‘n tyd vertoef het. Die Sabi-rivier was vir ons baie mooi. As gevolg van die reën was die wild nie so volop nie. Ons het egter vlakvarke en koedoes gesien. Daarna is ons na die ruskamp “Tshokwane” waar ons die middag brood en koffie geëet het. Om 2vm verlaat ons die ruskap weereens na “Skukuza” toe. Langs die Sabi-rivier het ons ‘n paar krokodille gesien. Die nag sou ons in “Skukuza” oornag. Die aand het ons gaan kyk hoe die ruskamp lyk. Na ete het ons speletjies gespeel voor die kafee tot ongeveer 9:30. Daarna is ons na die rondawel waar ons geslaap het.

DONDERDAG 22:
Vroeg die oggend is daar pap gemaak en brood geëet. Om 8:35 verlaat ons die kamp met die hoop om mooi diere te sien. Langs die rivier af was die diere maar skaars. Om 10:45 arriveer ons by die ruskamp “Sabi”. Nadat ons ‘n rukkie daar vertoef het, verlaat ons die kamp. Om 11:30 gewaar ons ‘n jagluiperd suid van die ruskamp. Kort daarna gewaar ons ook ‘n buffel sowel as ‘n klomp Koorsbome. Om 12:30 was ons by die Krokodilbrug-ruskamp waar ons geëet het. Op daardie stadium was ons slegs 81 myl van Lorenzo Marques af. Dit was ‘n lieflike dag en dit was bitter warm. Om 1:40 verlaat ons die kamp en om 3:45 rus ons by Mkuhla.

Die wild was maar eina en om 5nm kom ons weereens in “Skukuza” aan. Nadat ons geëet het, het ons weereens speletjies gespeel en om 10nm het almal gaan slaap.

VRYDAG 23:
Na oggendete verlaat ons die ruskamp vir die laaste keer. Voordat ons egter die hekke bereik sien ons ‘n hiëna en ook ‘n trop Swartwitpense. Om 9:35 ry ons deur die Numbi-ingang en is op pad na Pretoria.

Die middag slaap almal op die bus. Om 3:30 doen ons by Bronkhorstspruit aan. Vandaar is ons reguit na Pretoria waar ons om 4:45 by die Laerskool Eendrag aankom. Na ete doen die seuns en Mnr Maritz gimnastiek terwyl Mnr Venter raad gee. Daarna is daar ook stoeigevegte en nadat ons gebad het, gaan stap ons in Pretoria. Om 11nm het almal gaan slaap.

SATERDAG 24:
Om 6:30 die oggend moes almal uit die vere. Na ete gaan ons na Kerkplein waar ons ‘n bus na die stasie haal. Ons vertrek om 8:15 na Johannesburg en die toer loop stadig ten einde. Om 10nm is ons in Johannesburg en stoor die bagasie in die bewaarkamer. Vandaar gaan ons per bus na die Johannesburgse dieretuin en besoek ook die Oorlogmuseum. Almal het dit interessant gevind.

Die middag het almal rondgestap in die dieretuin en het later gaan lê en rus. Vandaar is ons na die stasie waar ons tot om 10uur gewag het vir die trein. Almal het maar sleg gevoel aangesien die toer byna iets van die verlede was. Die aand het ons iets in die kafee geëet en vir oulaas na die Goudstad gestaar.

Nadat ons, ons bagasie in die bewaarkamer gaan haal het, is ons na die stasie. Om 10:10nm vertrek die trein na die Suide. Omdat almal maar moeg was het almal vroeg gaan slaap.

SONDAG 25:
Toe ons wakker word, was ons in die Kaapkolonie. Aangesien dit Sondag was, kon ons nie baie raas nie en het ons stil gesels oor al ons ondervindings van die vorige twee weke. Oor al daardie dinge het ons gesels terwyl die trein stadig maar seker die suidpunt van Afrika genader het. Talle seuns se oë het geblink van blydskap, want twee weke lank het hulle nie hulle “naasbestaandes” gesien nie.

Die oggend het gou verbygegaan en om 1nm was ons weer op De Aar waar die trein weereens ‘n uur vertoef het. Die wat nie gaan eet het nie, het in die dorp gaan rondstap. Die middag het party gaan slaap teryl andere nog aaneen gesels het en “planne” gemaak het vir die komende aand. As ‘n mens van vroutjie praat kon ‘n mens sien hoe Oom Dawie en Oom Douw se oë blink. Om 7:27nm was ons op Beaufort-Wes waar ons weer rondgestap het. Die meeste van ons het maar vroeg gaan slaap terwyl andere interessante geselskap gevind het.

MAANDAG 26:
Toe ons wakker word was ons alreeds baie na aan ons bestemming. Almal was baie opgewonde en het alles in orde gebring. Die tyd het stadig verbygegaan en presies om 8:45 stroom die trein Bellville stasie binne en ons sing luidkeels. Ons kom op die manier as wat ons gegaan het. Nadat alles afgelaai was, het ons die wat ons kom haal het gegroet. Daarna het ons vir Oom Douw en Oom Dawie bedank vir al die geduld wat hulle gehad het. Hulle was soos vaders vir ons en het ons altyd met goeie raad bygestaan. In talle kele was daar ‘n knop toe ons hulle luid toegesing het. Ons het egter een troos gehad. Dit was dat ons hulle weer sou sien en dat ons hulle nou baie beter geken het. Die toer was iets van die verlede, maar die pret en die ondervinding sal altyd onthou word in die toekoms.


Top of page



Toerspan



Archives Index Next
Archive item
Next
Section